EGIPTELAND
Ek weet nie wie van Julle al daar was nie, maar vir my dit was ʼn belewenis. Maar dit het ook gepaard gegaan met ʼn groot klomp stres, wat ek eerder nie wou gehad het nie. Ons arriveer in Kaïro op Saterdag die 27ste November, net 3 dae nadat Omikron sy verskyning hier gemaak het. Twee uur later kom daar ʼn Whatsapp van Egyptair was sê sorrie alle vlugte na SA is gekanselleer so hulle kanselleer my vliegkaartjie.
Al die vlugte uit die EU is dieselfde tyd gestaak, so dadelik was daar nou die groot vrees dat jy is gestrand. Ek het die hele Sondag onsuksesvol gespandeer net om ʼn plek te probeer kry in Kaïro waar ek ʼn ander vlug kan bespreek, maar dit is ook ʼn ander storie daardie. Toe op die ou end Sondagaand Whatsapp ek my broer hier in die Kaap en hy bespreek tjop-tjop vir my ʼn plek terug op Qatar met Travelstart, en hy e-pos vir my die kaartjie. OK daardie probleem opgelos.
Maar daar was ʼn ander groot olifant in die
kamer: niemand word toegelaat op ʼn vliegtuig as jy nie ʼn Covid toets slaag 48 uur
voor jou vertrek terug nie. En daar kon
mens dit opgetel het soos niks. Die meeste
mense dra nie maskers nie, en elke dag was ons in beknopte ongeventileerde
plekke saam met ʼn klomp ander toeriste met g’n niks sosiale afstande nie. So ons almal was maar vrek bekommerd oor
daardie een. Die laaste Vrydag was ons in Aswan en ons het ʼn dokter daar gekry
om die toetse te kom doen op ons almal op die boot. Hy het belowe om ons die uitslae Saterdagaand
21:00 te laat kry. En die eerste lede het al om 22:00 vertrek. So ons het gehoop die bliksem kon vertrou
word. Gelukkig het hy sy toetse gestuur,
en gelukkig was al 9 van ons skoon soos die dag toe ons gebore is. Phew.
Die toer self was baie
lekker. 2 nagte in ʼn hotel in Kaïro, 4
nagte op ʼn rivierboot, en toe weer 2 nagte in die hotel. Alles wat oop- en toemaak was daar en 3
buffetmaaltye en alles.
Die land is, natuurlik, iets anders. Die weer amper by midwinter was warm. Kortbroekweer. In Luxor was dit 34° bedags gewees so ek wil nie daar wees in die somer nie. Eienaardig geen een van die plaaslikes dra kortbroeke nie. Nie eers die kinders nie. Hulle is verder ʼn baie liberale Moslemland, hulle verkoop alkohol, en die mense rook soos skoorstene. Daar is Egiptiese wynmakers ook hoewel ek nie dink die wyn is hoë gehalte nie. En jy kan enige klere enige plek dra.
Van die toeristemeisietjies loop rond in daardie kort broekies van hulle. In Saoedie-Arabië sou hulle seker hulle hande afgekap het vir so ʼn groot sonde. As dit nie hulle hande is nie, dan sou hulle seker iets anders afgekap het. Die loukils dra óf denims óf daardie lang wit rokke van hulle – dis nou die mans. Die vrouens dra hulle swart burkas – wel nie almal nie. Party se oë is al wat uitsteek, party se onderste helfte van hulle gesigte is toe, en die ander se koppe is toe.
Jy sien iemand se hare nie.
Ons bus het in die donker oggendure na Abu Simbel het gery teen soms 150 km/h. Maar as daar ʼn ander stadiger voertuig voor in die pad verskyn, af is die ligte en ons gaan in die stikdonkerte voort tot die voertuig verby gesteek is. Die woestyn daar is, wel, woestyn. Daar is NIKS. Nie ʼn sprietjie nie, niks. So iets ook nog nie gesien nie. Die dorpe by die Nyl natuurlik is groen, maar dit is ʼn soort van stowerige groen. En die woestyn begin asof dit met ʼn mes gesny is. In Luxor kyk ek ʼn slag uit die lugballon af op die laaste straat in die dorp: aan die een kant groen, en aan die ander kant van die straat net sand of dit met ʼn mes gesny is. Die dorpe en stede se geboue ly almal ouerig en kom verf kort, maar verder is dit redelik skoon.
Wat jy kry by die toeristeplekke
is winkels. En winkels. En winkels.
Rye en rye die een op die ander.
Hulle verkoop klere, materiale en dan ander goed ook, en dit lyk my van
hoë kwaliteit. Die mense val jou net
baie erg lastig as jy daar loop. Hulle
loop voor jou in “hello my friend just look here” en hulle wil jou nie uitlos
nie. As jy sê nee dankie dan beteken dit jy het hom raakgesien en dan gaan hy
nou eers aan. Die beste is om stoer voor
jou te staan en net deur te druk en te loop waar jy heen wou gaan. Moenie probeer Afrikaans praat nie, want dit beteken
jy sien hom/haar raak.
My hoogtepunte nie in volgorde
van belangrikheid nie:
Die Aswandam. Kyk in goeie Afrikaans dit is ʼn MOERSE dam. Die wal is 3 km lank bo, en 200 m hoog. Die water strek weg na die suide toe vir 500 km. Vyf honderd kilometer! Jy staan daar op die wal en die water strek soos die see net aan en aan tot oor die horison.
En die volgende dag ry ons 300 km ver suid en
dan sien jy weer die dam. En daar strek
die water nog altyd aan en aan tot oor die horison:
Dit wys ook vir mens hoe geweldig gelyk die kontinent daar is. As mens by die water staan by Abu Simbel 300 km ver dan is jy omtrent net so hoog bo seespieël as by die wal van die dam, daarom kan die water so ver opdam.
Ek het 20 van die ballonne getel, en hulle is reusagtig groot:
En daar gaat ons toe;
Abu Simbel. Soos ek al gesê het dit is to hell and gone in die middel van nêrens amper by die Soedanese grens. Die 300 km soontoe se pad gaan deur ʼn verlate plat woestynlandskap behalwe vir ʼn vulstasie min of meer in die middel. Dit is mos die tempel wat onder die water sou verdwyn met die Aswandam en toe skuif hulle dit 200 meter na hoër grond. Dit klink maklik as mens praat van “tempel skuif” maar dié tempel is nie gebou soos die ander nie.
Dit is soos Petra in Jordanië binne-in ʼn heuwel uitgehol. So eintlik het hulle die hele heuwel stuk vir stuk uitgehaal en geskuif, en toe weer aanmekaar gesit op die nuwe terrein. Waar die naam “Abu Simbel” vandaan kom is ook interessant: dit was vroeg in die 19de eeu ʼn godverlate gebied langs die Nyl waar Nubiese stamme gebly het. Nou dié tempel was heeltemal bedek deur sand en dit is herontdek deur ʼn Switser genaamd Johann Ludwig Burckhardt. Hy het goed bevriend geraak met die Nubiërs daar naby en hulle het hom naderhand “Abu” genoem. Dit beteken “Pa”, en dit is ʼn erebenaming wat hulle gee vir ʼn ouerige persoon wat gerespekteer word, soos dit hier onder die swart mense ook die geval is.
Dan was
daar ʼn nuuskierige Nubiese seuntjie van 7 jaar wat die hele tyd rondgehang het
by die uitgrawery van die tempel, en hy en die Switser het naderhand pelle
geraak hoewel hulle nie ʼn woord kon verstaan wat die ander een kwytraak
nie. Sy naam was Simbel. So toe die
tempel daar herrys in al sy glorie, toe vernoem die plaaslikes die tempel na
die Switserse oubaas: “Abu Simbel” – die pa van Simbel. Die beelde buite is
almal van dieselfde Farao Rameses. Die
tweede beeld se kop lê op die grond, en dit is soos dit ontdek is deur Abu,
soos dit moes baie lank terug gebeur het, miskien gedurende ʼn aardbewing.
Hier is een van die uitbeeldings binne die tempel en wat interessant is, is hoe hulle die beweging van die galopperende perd se pote uitbeeld:
Nadat ons die tempel gedoen het
is ons weer in die bus en teen 13:30 is ons terug in Aswan. Betyds vir die dokter om ons te kom toets op
die boot vir Covid want die volgende dag is die eerste groeplede al terug.
By die Vallei het ek die 1ste keer kennis gemaak met die Egiptiese mentaliteit dat almal geld wil hê en almal probeer iets doen waarvoor jy moet betaal. As iemand bv. aanbied om ʼn foto te neem met jou selfoon van jou, en jy sê ja, dam moet jy hom [dit is nooit ʼn haar nie] betaal My kennismaking was hiermee:
Hier is Ramesses I se tombe met sy sarkofaag.
Hier langsaan en hier onder is
hoe dit lyk in Ramesses IX se tombe.
Hier het hulle dit gekerf in die sandsteen en toe ingekleur.
En dan is die son weg, en dit
is tyd vir iets vloeibaars. Ek moet
erken dat ek weer geleer water drink het daar.
Orals waar mens kom gee hulle vir jou ʼn bottel water en dit is so warm
dat jy baie bottels opdrink so in die loop van die toer.
Die tekstielverkopers gaan heen
in die donkerte in, en soos hulle in die skoolopstelle skryf het ons toe die
geleentheid gehad om heerlik te smul op die bodek aan al die heerlike geregte
wat aan ons voorgesit is. Die tafels het
behoorlik gekreun van die lekkernye.
Op pad na Aswan het ons gestop by Edfu. Daar is een van die bes bewaarde tempels met reuse figure uitgekerf op hulle noem dit die “pylons” in Engels. Die geboue het al lank terug hulle dakke verloor, so mens kry gewoonlik ʼn stel pilare en mure. Op die binnemure is ook die reliëfbeelde. Sommige daarvan is erg beskadig. Dit is gedoen deur Christene in die tyd toe die Romeine Egipte beset het.
Die sandsteenblokke
waarmee dit gebou is, is eintlik redelik rof afgewerk en is nie almal ewe groot
nie. En ʼn ander storie dat dit perfek
inmekaar pas is ook onsin. Op party
plekke kan mens jou hand insteek tussen twee blokke.
Die sandsteenblokke waarmee dit
gebou is, is net langsaan uitgehaal, en mens kan na die steengroef toe gaan en
jy sal die merke op die grond sien hoe die vierkantige blokke daar uitgehaal
is. Die oorspronklike ingang tot die
piramide kan mens op die foto sien. Nadat
Farao in sy sarkofaag daarbinne gebêre is, is die gang geblokkeer van binne en
die werkers het met ʼn ontsnapuitgang uitgekom.
Dit is te sien so effens skuins regs onder die hoofingang, en dit is
waar mens ingaan vandag.
Om daar in te gaan is ʼn
ervaring, maar een wat ek net een keer wil hê.
Die gang is seker net 1½ m hoog.
Dit is 10 keer erger as die Kangogrotte
se rumatiektonnel. Dit is láág en jy loop daarin amper dubbeld gevou. Dit is dit steil op, en steil af, en dit is
donker daarin, en daar is hordes mense wat almal daarin wil kruip. Ek het nie binne enige fotos geneem nie want
dit is te beknop en daar was te veel mense en te donker daarvoor.
ʼn Laaste foto van
die Groot Piramide van die agterkant af:
Op
die laaste dag het ons die Egiptiese Museum besoek. Dit was wat my betref too much of a
muchness soos my ma sou gesê het.
Die museum is propvol met artifakte en mens sou dae nodig hê om enigsens
sin te maak van alles wat daar is. Ek
het toe maar hierdie foto van ʼn reusebeeld van ʼn kat geneem en daarmee
volstaan.
Tot
sover dan my besoek aan Egipteland ...
Comments
Post a Comment