EGIPTELAND



Ek weet nie wie van Julle al daar was nie, maar vir my dit was ʼn belewenis.  Maar dit het ook gepaard gegaan met ʼn groot klomp stres, wat ek eerder nie wou gehad het nie.  Ons arriveer in Kaïro op Saterdag die 27ste November, net 3 dae nadat Omikron sy verskyning hier gemaak het.  Twee uur later kom daar ʼn Whatsapp van Egyptair was sê sorrie alle vlugte na SA is gekanselleer so hulle kanselleer my vliegkaartjie.  

Al die vlugte uit die EU is dieselfde tyd gestaak, so dadelik was daar nou die groot vrees dat jy is gestrand.  Ek het die hele Sondag onsuksesvol gespandeer net om ʼn plek te probeer kry in Kaïro waar ek ʼn ander vlug kan bespreek, maar dit is ook ʼn ander storie daardie.  Toe op die ou end Sondagaand Whatsapp ek my broer hier in die Kaap en hy bespreek tjop-tjop vir my ʼn plek terug op Qatar met Travelstart, en hy e-pos vir my die kaartjie.  OK daardie probleem opgelos.  

Maar daar was ʼn ander groot olifant in die kamer: niemand word toegelaat op ʼn vliegtuig as jy nie ʼn Covid toets slaag 48 uur voor jou vertrek terug nie.  En daar kon mens dit opgetel het soos niks.  Die meeste mense dra nie maskers nie, en elke dag was ons in beknopte ongeventileerde plekke saam met ʼn klomp ander toeriste met g’n niks sosiale afstande nie.  So ons almal was maar vrek bekommerd oor daardie een. Die laaste Vrydag was ons in Aswan en ons het ʼn dokter daar gekry om die toetse te kom doen op ons almal op die boot.  Hy het belowe om ons die uitslae Saterdagaand 21:00 te laat kry. En die eerste lede het al om 22:00 vertrek.  So ons het gehoop die bliksem kon vertrou word.  Gelukkig het hy sy toetse gestuur, en gelukkig was al 9 van ons skoon soos die dag toe ons gebore is.  Phew.

Die toer self was baie lekker.  2 nagte in ʼn hotel in Kaïro, 4 nagte op ʼn rivierboot, en toe weer 2 nagte in die hotel.  Alles wat oop- en toemaak was daar en 3 buffetmaaltye en alles. 



Sy lyk die boot, swembad en alles is daar:




Vir iemand soos ek wat hou daarvan om te slaap tot 09:00 het hulle kwaai gelooi.  Een oggend moes ek om 03:50 aantree toe hulle my kom oplaai het vir ʼn warmlugballonvaart bo die woestyn om die son te sien opkom.  ʼn Ander oggend was dit om 04:30.  Toe het ons 300 km gery na Abu Simbel se tempel en weer 300 km terug om 13:00 weer by die boot te wees.  ʼn Derde oggend was dit weer op ʼn onchristelike uur – ek kan nie eers meer onthou hoekom nie.

Die land is, natuurlik, iets anders.  Die weer amper by midwinter was warm.  Kortbroekweer.  In Luxor was dit 34° bedags gewees so ek wil nie daar wees in die somer nie.  Eienaardig geen een van die plaaslikes dra kortbroeke nie.  Nie eers die kinders nie.  Hulle is verder ʼn baie liberale Moslemland, hulle verkoop alkohol, en die mense rook soos skoorstene.  Daar is Egiptiese wynmakers ook hoewel ek nie dink die wyn is hoë gehalte nie.  En jy kan enige klere enige plek dra.  

Van die toeristemeisietjies loop rond in daardie kort broekies van hulle.  In Saoedie-Arabië sou hulle seker hulle hande afgekap het vir so ʼn groot sonde.  As dit nie hulle hande is nie, dan sou hulle seker iets anders afgekap het.  Die loukils dra óf denims óf daardie lang wit rokke van hulle – dis nou die mans.  Die vrouens dra hulle swart burkas – wel nie almal nie.  Party se oë is al wat uitsteek, party se onderste helfte van hulle gesigte is toe, en die ander se koppe is toe.  

Jy sien iemand se hare nie. Die verkeer is ook nou weer iets anders.  Daar is baie min robotte maar hulle organiseer hulleself en druk in en gaan aan met behulp van kort-kort ʼn toet op die toeter.  Wat vir my weird was is dat saans ry party karre met hulle ligte aan, party net met die parkeerliggies, en baie karre ry met niks, maar niks, ligte aan nie.  Dikwels as iemand kort agter ʼn ander kar beland dan sit hy sy ligte af. 


Ons bus het in die donker oggendure na Abu Simbel het gery teen soms 150 km/h.  Maar as daar ʼn ander stadiger voertuig voor in die pad verskyn, af is die ligte en ons gaan in die stikdonkerte voort tot die voertuig verby gesteek is.  Die woestyn daar is, wel, woestyn.  Daar is NIKS.  Nie ʼn sprietjie nie, niks.  So iets ook nog nie gesien nie.  Die dorpe by die Nyl natuurlik is groen, maar dit is ʼn soort van stowerige groen.  En die woestyn begin asof dit met ʼn mes gesny is.  In Luxor kyk ek ʼn slag uit die lugballon af op die laaste straat in die dorp: aan die een kant groen, en aan die ander kant van die straat net sand of dit met ʼn mes gesny is.  Die dorpe en stede se geboue ly almal ouerig en kom verf kort, maar verder is dit redelik skoon. 


Wat jy kry by die toeriste­plekke is winkels.  En winkels.  En winkels.  Rye en rye die een op die ander.  Hulle verkoop klere, materiale en dan ander goed ook, en dit lyk my van hoë kwaliteit.  Die mense val jou net baie erg lastig as jy daar loop.  Hulle loop voor jou in “hello my friend just look here” en hulle wil jou nie uitlos nie. As jy sê nee dankie dan beteken dit jy het hom raakgesien en dan gaan hy nou eers aan.  Die beste is om stoer voor jou te staan en net deur te druk en te loop waar jy heen wou gaan.  Moenie probeer Afrikaans praat nie, want dit beteken jy sien hom/haar raak.

My hoogtepunte nie in volgorde van belangrikheid nie:

Die Aswandam.  Kyk in goeie Afrikaans dit is ʼn MOERSE dam.  Die wal is 3 km lank bo, en 200 m hoog.  Die water strek weg na die suide toe vir 500 km.  Vyf honderd kilometer!  Jy staan daar op die wal en die water strek soos die see net aan en aan tot oor die horison.  




En die volgende dag ry ons 300 km ver suid en dan sien jy weer die dam.  En daar strek die water nog altyd aan en aan tot oor die horison:

 Dit wys ook vir mens hoe geweldig gelyk die kontinent daar is.  As mens by die water staan by Abu Simbel 300 km ver dan is jy omtrent net so hoog bo seespieël as by die wal van die dam, daarom kan die water so ver opdam.

Die warmlug ballon.  Ek weet mens kan dit orals doen, maar ek het dit nou daar gedoen en hulle pak dit op ʼn groot skaal aan.  Hier is ons besig om op te vaar na die hemel toe ±06:30 die oggend:

Ek het 20 van die ballonne getel, en hulle is reusagtig groot:


Hier is hulle besig om ons ballon wat plat op die grond gelê het te begin opblaas.  Die gondolas onder neem elkeen 35 mense, en ons sʼn hier lê nog hier op sy kant.  Dit is opgedeel in hokkies binne wat elkeen 4 mense neem sodat die mense op een plek bly en nie die balans verander nie.

En daar gaat ons toe; 





  

Na ʼn uur is dit terug op die grond, die son is op, en alles is verby:

Wow.  En daar daag ʼn ou op wat wou weet of iemand nie op sy donkie wil ry nie.


Abu Simbel.  Soos ek al gesê het dit is to hell and gone in die middel van nêrens amper by die Soedanese grens.  Die 300 km soontoe se pad gaan deur ʼn verlate plat woestynlandskap behalwe vir ʼn vulstasie min of meer in die middel.  Dit is mos die tempel wat onder die water sou verdwyn met die Aswandam en toe skuif hulle dit 200 meter na hoër grond.  Dit klink maklik as mens praat van “tempel skuif” maar dié tempel is nie gebou soos die ander nie.   

Dit is soos Petra in Jordanië binne-in ʼn heuwel uitgehol.  So eintlik het hulle die hele heuwel stuk vir stuk uitgehaal en geskuif, en toe weer aanmekaar gesit op die nuwe terrein.  Waar die naam “Abu Simbel” vandaan kom is ook interessant: dit was vroeg in die 19de eeu ʼn godverlate gebied langs die Nyl waar Nubiese stamme gebly het.  Nou dié tempel was heeltemal bedek deur sand en dit is herontdek deur ʼn Switser genaamd Johann Ludwig Burckhardt.  Hy het goed bevriend geraak met die Nubiërs daar naby en hulle het hom naderhand “Abu” genoem.  Dit beteken “Pa”, en dit is ʼn erebenaming wat hulle gee vir ʼn ouerige persoon wat gerespekteer word, soos dit hier onder die swart mense ook die geval is.  

Dan was daar ʼn nuuskierige Nubiese seuntjie van 7 jaar wat die hele tyd rondgehang het by die uitgrawery van die tempel, en hy en die Switser het naderhand pelle geraak hoewel hulle nie ʼn woord kon verstaan wat die ander een kwytraak nie.  Sy naam was Simbel. So toe die tempel daar herrys in al sy glorie, toe vernoem die plaaslikes die tempel na die Switserse oubaas: “Abu Simbel” – die pa van Simbel. Die beelde buite is almal van dieselfde Farao Rameses.  Die tweede beeld se kop lê op die grond, en dit is soos dit ontdek is deur Abu, soos dit moes baie lank terug gebeur het, miskien gedurende ʼn aardbewing.



Binne is dit soos al die Egiptiese tempels drie ruimtes agter mekaar.  Mens kan sien waar die Jode die uitleg van hulle tabernakels en later hulle tempels gekry het, want die Egiptiese tempels het so gewerk: elke ruimte verderaan is heliger as die vorige een, en die laaste ruimte kan net op beperkte tye binnegegaan word deur slegs die hoogste priester.  Klink bekend nè.  Nog iets wat bekend klink is die Egiptiese verhaal van Horus die seun van Isis en Osiris.  Horus is toe hy ʼn baba was deur sy ma weggesteek om hom te beskerm in ʼn mandjie tussen die riete van die Nyl en hy is opgepas deur sy suster.

Hier is een van die uitbeeldings binne die tempel en wat interessant is, is hoe hulle die beweging van die galopperende perd se pote uitbeeld:


Nadat ons die tempel gedoen het is ons weer in die bus en teen 13:30 is ons terug in Aswan.  Betyds vir die dokter om ons te kom toets op die boot vir Covid want die volgende dag is die eerste groeplede al terug.


Die Vallei van die Konings: Net buite Luxor is die gaftombes waar hulle die Faraos begrawe het tussen die jare -600 en -150, maw oor 450 jaar.  Daar is 63 van hierdie tombes hier en die meeste van hulle is oop.  Al die tombes is gestroop oor die eeue behalwe vir twee.  Een is ontdek in die 19de eeu en die ander een is die bekende tombe van Tuthankamon wat in die 1920’s ontdek is.  Die tombes is basies ʼn tonnel wat skuins afgaan tot in die grafkamer, maar soms is daar meers as een grafkamer agter mekaar.  Die langste tonnel is 420 meter lank – amper ½ kilometer.


By die Vallei het ek die 1ste keer kennis gemaak met die Egiptiese mentaliteit dat almal geld wil hê en almal probeer iets doen waarvoor jy moet betaal.  As iemand bv. aanbied om ʼn foto te neem met jou selfoon van jou, en jy sê ja, dam moet jy hom [dit is nooit ʼn haar nie] betaal  My kennismaking was hiermee:


Hulle het so ʼn padtreintjie wat jou optel by die parkeerplek en dan op ry na die ingang; seker so ʼn kilometer.  Toe ons groep na die treintjie toe loop toe wink die man wat die trekkertjie vooraan bestuur vir my en hy wys ek moet voor op die trekker by hom opklim.  Fyn.  Toe ons halfpad die pad gery het, toe hou hy sy hand uit na my toe.  Ek moet betaal ...

Hulle het ʼn lang lys daar van al die tombes en dit is in twee groepe opgedeel: [a] jy betaal R200 en dan kan jy enige 3 tombes van jou keuse besoek op lys 1.  [b] En dan is daar lys 2 en om daardie tombes te besoek is ekstra, en die prys is nie oral van almal dieselfde nie.  Die duurste tombe het R1 000 gekos.  Ek het toe twee op die lys nog bygekoop en ons het 3 uur gehad om individueel na die tombes te gaan.  Ek het toe ½ uur rustig in elkeen deurgebring.  Hoewel hulle leeg gesteel is, is die muur- en plafonskilderye nog almal daar.  Dit is meer as skilderye, want soms is daar reliëfbeelde in die mure ook.  Dit is alles tonele uit die Egiptiese mitologie uit en dit gee ʼn beeld van die gelowe en die gebruike van daardie tyd.

 Hier is Ramesses I se tombe met sy sarkofaag.








Hier langsaan en hier onder is hoe dit lyk in Ramesses IX se tombe.  Hier het hulle dit gekerf in die sandsteen en toe ingekleur.


Onder is ʼn ander hoek van die graftombe, en hier is ook die stukke van sy sarkofaag.

 

Nou is ons weg van Luxor en op pad na Aswan. 

Die Egiptenare is entrepeneurs, hoor?  Hierdie ouens het hulle bootjie vasgemaak aan ons boot.  En hulle verkoop tekstiele.  As iemand belang stel, dan maak hulle dit toe in ʼn pakkie en dan gooi hulle dit woep op tot bo op die dek en gewoonlik mik hulle so goed dat dit by die persoon val wat belang stel.  En die vrouens op die boot die koop hoor?  Ek het nou nie ʼn volledige transaksie gevolg nie, so ek weet nie mooi hoe hulle betaal daarvoor nie.  Ek kan skaars glo dat hulle die geld afgooi tot onder in die boot.  Dalk het die entrepeneurs kontakte op die boot.

En dan is die son weg, en dit is tyd vir iets vloeibaars.  Ek moet erken dat ek weer geleer water drink het daar.  Orals waar mens kom gee hulle vir jou ʼn bottel water en dit is so warm dat jy baie bottels opdrink so in die loop van die toer.

ʼn Ander rede vir die waterdrinkery is dat die alternatiewe is vrek duur.  Vir ʼn bier [Egipties en nie baie lekker nie] haal mens maklik R90 uit.

Die tekstielverkopers gaan heen in die donkerte in, en soos hulle in die skoolopstelle skryf het ons toe die geleentheid gehad om heerlik te smul op die bodek aan al die heerlike geregte wat aan ons voorgesit is.  Die tafels het behoorlik gekreun van die lekkernye.









Op pad na Aswan het ons gestop by Edfu.  Daar is een van die bes bewaarde tempels met reuse figure uitgekerf op hulle noem dit die “pylons” in Engels.  Die geboue het al lank terug hulle dakke verloor, so mens kry gewoonlik ʼn stel pilare en mure.  Op die binnemure is ook die reliëfbeelde.  Sommige daarvan is erg beskadig.  Dit is gedoen deur Christene in die tyd toe die Romeine Egipte beset het.

Na die tempel toe ry mens met ʼn perdekar.  Die pretensieuse mense sou sê “ek het die voorreg gehad om voor by die koetsier te sit”.  Voorreg se agterent.  Die perdekar neem eintlik het twee mense, en Philip en Martie van ons toergroep het daar gesit.  So ek moes voor op die bankie sit, en natuurlik was daar weer die gewone konsiderasie ter sprake vir die koetsier.  Maar soos julle kan sien daar is hordes van dié perdekarre.


Ja. En dan was daar Die Piramides.  Kyk, hulle is groot.  Enorm.  En daar is deur al die eeue deur geweldig baie onsin daaroor geskryf.  Ek het nou die dag weer so ʼn “new age” artikel gelees waarin die skrywer vir ʼn feit vertel dat as jy die omtrek neem van die groot piramide en deel dit met 3 x die hoogte daarvan dan kry jy die waarde van π tot 50 desimale ja jou wragtag.  Om dit te kan doen moet jy daardie mate meet tot 50 desimale, en dit is belaglik.  Want van naby lyk die piramide soos op die foto bietjie ondertoe:




Die sandsteenblokke waarmee dit gebou is, is eintlik redelik rof afgewerk en is nie almal ewe groot nie.  En ʼn ander storie dat dit perfek inmekaar pas is ook onsin.  Op party plekke kan mens jou hand insteek tussen twee blokke.

 

 

Die sandsteenblokke waarmee dit gebou is, is net langsaan uitgehaal, en mens kan na die steengroef toe gaan en jy sal die merke op die grond sien hoe die vierkantige blokke daar uitgehaal is.  Die oorspronklike ingang tot die piramide kan mens op die foto sien.  Nadat Farao in sy sarkofaag daarbinne gebêre is, is die gang geblokkeer van binne en die werkers het met ʼn ontsnapuitgang uitgekom.  Dit is te sien so effens skuins regs onder die hoofingang, en dit is waar mens ingaan vandag.

Die gange en die kamers binne is van graniet, wat die hele end pad af gekom het met die Nyl van Aswan af.  Daardie klippe is akkurater afgewerk en die lasplekke pas styf teenaan mekaar.  Die piramides het oorspronklik ʼn bekleding gehad van wit kalksteen, dit is alles afgesteel deur die eeue, behalwe by die piramide van Khafre wat net langsaan is, het die bekleding by die boonste gedeelte nog behoue gebly.




Om daar in te gaan is ʼn ervaring, maar een wat ek net een keer wil hê.  Die gang is seker net 1½ m hoog.  Dit is 10 keer erger as  die Kangogrotte se rumatiek­tonnel. Dit is láág en jy loop daarin amper dubbeld gevou.  Dit is dit steil op, en steil af, en dit is donker daarin, en daar is hordes mense wat almal daarin wil kruip.  Ek het nie binne enige fotos geneem nie want dit is te beknop en daar was te veel mense en te donker daarvoor.




ʼn Laaste foto van die Groot Piramide van die agterkant af:
Daar is so iets wat lyk soos ʼn ingang.  Ek wou nader loop om te gaan kyk, maar daar was toe nie meer tyd daarvoor nie.  Dit gedoen deur twee “egiptoloë” – ʼn Engelsman en ʼn Italianer - wat die piramide probeer oopskiet het met dinamiet.  Sulke mense verdien die doodstraf eintlik.

Op die laaste dag het ons die Egiptiese Museum besoek.  Dit was wat my betref too much of a muchness soos my ma sou gesê het.  Die museum is propvol met artifakte en mens sou dae nodig hê om enigsens sin te maak van alles wat daar is.  Ek het toe maar hierdie foto van ʼn reusebeeld van ʼn kat geneem en daarmee volstaan.



Tot sover dan my besoek aan Egipteland ...

Comments